Met die wete dat my biopsie uitslag met ‘n 7 (3+4) gleason gradering ‘n radikale prostatektomie genoodsaak het, het ek verskeie bronne soos persone wat reeds die pad van radikale prostatektomiëe geloop het, internet; You Tube en ander mediese artikels, geraadpleeg om te probeer vasstel watter van die verskeie metodes vir my die aanvaarbaarste is.
My aanvanklike eerste keuse was die “Brachy therapy” metode en die “oop” chirurgiese prosedure as ‘n tweede keuse. Ek wou sover moontlik dinge soos pyn, ongerief, die moontlike verlies van liggaams funksies vermy en so vinnig as moontlik herstel om met my daaglikse aktiwiteite te kan voortgaan. Na ‘n gesprek met die uroloog in sake die Robot metode en die verdere raadpleging van eksterne bronne, het ek met die tersaaklike inligting tot my beskikking, op die (RGRP) metode besluit.
Met al hierdie inligting tot my beskikking en met die wete dat daar onmiddellik aandag aan my situasie gegee is, en dat daar ‘n baie goeie kans op volkome herstel is, is ek met ‘n oop gemoed en ‘n baie positiewe ingesteldheid hospitaal toe.
Die verloop van my prostatektomie was kortliks die volgende:
Ek is die Saterdagoggend geopereer waarna ek volgens normale voorsorg maatreëls oorgeplaas is na die intensiewe sorgeenheid. Die volgende ogggend is ek na ‘n gewone saal oorgeplaas en die Woensdag, die vierde dag ontslaan. Volgens die Uroloog en verpleegpersoneel het ek baie goed en baie gou herstel.
Ek is bevoorreg om vandat ek die teater – nou weke later – verlaat het, nog geen pyn of wesenlike ongerief ervaar het nie. “Dalk kom daar nog ‘n oplossing vir die noodsaaklike lastige kateter”?
Geen pyn en ongerief beteken nie jy klim flink in en uit die bed nie; jou bewegings is vereers versigtig om te voorkom dat daar dalk komplikasies kan wees. Die fisioterapeute wat my wou kom ondersteun om op te staan en te gaan stap na die operasie, het opgemerk dat ek so sterk en beweeglik is dat dit nie enigsins nodig was om my te help nie. Ek het tot op hede nie nodig gehad om enige addisionele pynstillers of slaappille te neem nie.
Ek het die dag van my ontslag uit die hospitaal alreeds vir kort tye by my lessenaar by die huis gesit en werk en soos nodig gaan lê. In die daaropvolgende week het ek byna heeltyds by my lessenaar gesit en werk en was reeds die derde week na die operasie terug op kantoor. Ek het na drie weke weer motor bestuur wat ek glo ek al kon gedoen het toe ek uit die hospitaal ontslaan is. Ek het egter getrou volgens die dokter en mediese personeel se voorskrifte gefunksioneer en my stil gedra, alhoewel ek gevoel het ek kan omtrent onmiddellik met my normale aktiwiteite voortgaan.
Drie weke na my operasie het ek oor ‘n periode van twee dae ongeveer 1500km na my vakansie bestemming gery – self bestuur sonder enige ongemak ten opsigte van die operatiewe prosedures. Ek het geswem en ‘n paar keer ongeveer 6 km op ‘n slag gaan stap. Nou na ongeveer sewe weke gaan ek gewoonweg aan met my normale aktiwiteite en dit voel steeds of ek nooit ‘n groot mediese chirurgiese ingreep gehad het nie. Ek is veral ook opgewonde dat ek onmiddellik goeie blaasbeheer gehad het wat my toelaat om met my daaglikse aktiwiteite aan te gaan. Ek is werklik opgewonde oor my ervaring met die Robot metode en die vinnige herstel wat ek gehad het.
(4 February 2013)